Thursday, August 15, 2013

Legende van vergaan

Genadeloos is die vriendskap met my lewe
Weerloos is wat die lewe my bied
Sielloos is wat die lewe my laat

Gebede en trane na God bly onbeantwoord
Daar word dan gesê ons trane vang Hy vas
Tog is my lewe heeltemal op sy eie akkoord
En bly die trane rol op wange wat lankal reeds was

Die goeie word omvou deur die sleg
Alle herinneringe word uitgewis
Dis asof positief en negatief inmekaar in vleg
En die lewenstrein my laat weet ek het Hom gemis

Al wat nou agterbly is die onbekende
van gister se bestaan
dalk was God vir jou ‘n legende
maar vir my – die God wat toekyk hoe ek vergaan.


7 Julie 2010

Kom maak 'n draai in my hart

Kom maak 'n draai in my hart
en jy sal my kry, ingekrimp en in die hoekie sit ek en wag
vir beter tye, vir 'n beter dag.

Kom maak 'n draai in my hart
en jy sal sien dat jou afwesigheid my verwese gelaat het

kom maak 'n draai in my hart
en sien dat ek tog jou vriendin was
al het die ander gese, los hom hy is net 'n las

Kom maak 'n draai in my hart
en sien die trane oor my wange rol
want jou vriendskap was vir my meer as net 'n jol

Kom maak 'n draai in my hart
en voel die seer wat ek voel

Kom maak n draai in my hart
en jy sal my kry, ingekrimp en in 'n hoekie sit ek en wag
vir beter tye, 'n beter vriend en 'n beter dag....


16 April 09

Soeke na 'n wens

'n Soeke na 'n wens om 'n lewe te vervul 
Om iets te vind om te glo, om aan vas te hou
Om te raak aan die rand van vryheid en weer toegevou te word in die omsingelende wêreld van mensdom
Om die moed te vind om anders te wees as ander
Om genot te vind in die seerkry van ons daaglikse ervarings
Om seerkry te kan sien as 'n teken van versterking
Om iemand te vind wat se gedagtes met joune ontmoet
Om die vreemde gevoel van alleen in jou vuis toe te vou en dit in 'n vriend te verander
Om trane wat onbeskaamd oor jou wange rol op jou vingerpunte te voel en die werklikheid van uniekwees te ervaar
Om die seermaakwoorde as 'n teken van omgee te beskou
Om 'n verbode gevoel om te skakel in 'n lewenslange vriendskap
Om 'n melodie van die seermaakwoorde wat jy vir my së te vorm
en om vervuld te leef met opregte wense in jou hart...

10 November 2008

Wednesday, March 7, 2012

Om god te speel..

Soos die son ondergaan tussen die groen akkerbome,
fluister die blare met simpatie dat more nog 'n dag is en die son miskien dan
sy strale van geluk in my glimlag sal skyn.

Want sien jou tuiste is voorgee en jouskuiling was God
Maar die God wat ek ken is nie so nie,
steeds kom verwoes jyongeerg my genade, my geloof en my God.

Darem is dit so duidelik soos daglig,
want vir jou is dit belangriker om god te speel as om in God te glo...

25 Februarie* 2012

Wednesday, June 1, 2011

Onvoltooide fantasie..

Onthou jy daardie eerste keer?
Toe jy onophoudelik my in jou oë vaskeer

My hart het gebons vir die taal wat jou oë met myne praat;
Sonder woorde het jou oë als gesê en my verstom gelaat

Skaam was jy en bang was ek,
Vir dit wat ons harte van oorloop maar net by ons oë uitlek

Want sien, dis meer gekompliseerd as wat jou oë vir my wys
Dis meer as wat jy en ek wil en meer word by beide vereis

Want die lewe bly nou maar eens ‘n onvoltooide fantasie
Waar hierdie sprokiesdroom van ons nie gou gaan waar word nie…

Kaapse Platteland..

Ek is vasgevang tussen Hemel en Aarde
Want niks anders gee jou siel soveel meer waarde
Dis asof kleur en reuk my liggaam oorneem
Juis omdat daar soveel is om waar te neem

Dis onmoontlik om woorde te ontdek
Wat oor hierdie landskap wat ek sien sal kan strek
Groen en blou, eweskielik so na aan mekaar
Presies asof hulle saam op die horison die ewigheid in wil vaar

Dis vrede-kos vir die siel – hierdie Kaapse platteland
Want waar anders vind die hart geluk as tussen sonstrale, berge, wingerde en fynbos-sand?

Die [on]waarheid..

Onverwagte paaie kruis met voete wat die hart se pyn moes dra
Maar die hart is hiervan onbewus
en wil steeds die vrae van die siel vra
juis om die pyn van die hart te blus

Onvoltooide sinne vul hande wat regstaan vir ontvang
Net sodat dit kan vul – die leemte binny my
Want binne my soek ek rede vir dit waarna ek verlang
Dit waarvan my herinneringe my nie wil bevry

Ongesiene waarhede word gesoek in oë wat lankal reeds was
Miskien juis om vrede in my siel te bewaar
Maar nou het die vrede geen waarde – want die leuen druk my teen jou hart se punt vas
Dis hier waar insig ingryp en saggies vir my fluister; dis goed; dis reg; dis klaar…