Soos ek my lewe in ‘n tas pak as ek weer terugkeer na Stellenbosch
Pak ek jou in een van my hart se diepste kompartemente
Sodat ek jou slegs vaagweg kan onthou sonder verdere denke
Sodat ek kan leef met oorgawe en nie terugstaan vir die seer wat jy so onopgesmuk in my kom plaas het nie
Sodat ek kan lag – so hard en soveel as wat ek wil sodat jy kan sien ek leef nog met my hele hart
Sodat ek kan wees, spontaan en impulsief, sonder om te wonder wat jy oor my dade dink
Sodat ek kan weet dat die lewe myne is, en dat jy my nie gaan stop om te leef, te lag, te wees en met oorgawe weer te kan lief hê nie.
Want sien, ek pak jou in een van my hart se diepste kompartemente,
want ek wil weer voel dat ek nog die stukkie van my siel wat ek vir jou gegee het weer teruggekry het
want ek wil weer sien dat die lewe myne is en jy nie die rigting gaan bepaal nie
want ek wil weer glo dat alles in die wêreld tog goed is en nie net verinneweer en vernietig nie
en alles is goed – weet jy – want jy bestaan nog vaagweg in ‘n kompartement waarin ek min gaan en die sleutel daarvan lankal reeds by my hart uitgegooi het.
11 Januarie 2011
*Partykeer gee 'n mens so baie van jouself, van jou hart en siel, vir iemand... Al wat jy dan kan doen is om self weer beheer te neem oor wie jy is, en dit lewe met oorgawe verwelkom...
ReplyDelete